Eskatologie vir 5-jariges: En waarom jy moet postmil wees

Eskatologie gaan oor wat iemand glo oor die einde van die geskiedenis. In hierdie artikel wil ek die basiese konsepte en standpunte op ‘n maklike manier verduidelik. En ek gaan my bes probeer om jou te oortuig om optimisties te wees oor die toekoms van God se koninkryk.

Wat is eskatologie en is dit belangrik?

Eskatologie kom van twee Griekse woorde: ἔσχατος (esgatos) wat beteken “einde” en λόγος (logos) wat beteken “woord.” As jy die twee woorde saamsit word dit iets soos “die woord oor die einde.” Basies kom dit neer op wat iemand glo oor die einde van die geskiedenis: Wanneer Jesus Christus weer kom.

Eskatologie is baie belangrik, vir die eenvoudige rede dat dit in die Bybel baie belangrik is. Die Bybel het ‘n doel: Dit stuur af op ‘n punt. Dit word geskryf met die oog op die toekoms. Die hele geskiedenis van die Bybel speel af in die skaduwee van die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Maar eskatologie is ook belangrik vir nog ‘n rede: Jy kan dit nie vermy nie. Sien, op die ou end het almal ‘n eskatologie. Iemand sê dalk dat hy niks glo oor die eindtyd nie. Maar dis onmoontlik. Almal van ons glo iets oor die toekoms: Selfs as jy glo dat “wat ook al moet gebeur sal gebeur” dan glo jy iets daaroor: Jy glo dan dat dit nie belangrik is wat in die toekoms moet gebeur nie.

Die wêreld het ‘n eskatologie. Hulle probeer ook om ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde te bou. Hulle soek ook vir ‘n nuwe mensdom. Hulle noem dit ‘n utopia. Maar hulle nuwe aarde is nie dieselfde as die nuwe aarde wat ons verwag nie. Daarom is dit belangrik vir ons, die kerk, om helder en duidelik te sê wat ons eskatologie is. Ons moet ons hoop vir die toekoms uitbasuin teenoor die wêreld se hoop.

Premil, Amil, Postmil

As jy begin lees oor eskatologie, dan sal jy baie vinnig hoor dat daar basies hierdie drie standpunte is:

  • Premillennialisme.
  • Amillennialisme.
  • Postmillennialisme.

Jy kan gerus gaan kyk na hierdie YouTube video: Dit is ‘n debat tussen hierdie drie standpunte.

Om te verstaan wat die verskil is tussen hierdie drie standpunte, moet ek eers nog ‘n moeilike woord verduidelik: Millennium. Millennium is die Latynse getal 1,000. In Openbaring 20:1-6 hoor ons van ‘n 1,000 jaar waar die Satan gebind is en Christus saam met sy kerk op die aarde regeer. Die groot vraag is: Hoe presies moet mens hierdie 1,000 jaar verstaan en waar pas dit in?

Premillennialisme glo Christus se wederkoms vind plaas voor die 1,000 jaar. Jy kan dit hoor in die woordjie “pre” wat “voor” beteken. So met ander woorde: Christus kom eers terug, dan word die Satan gebind en dan breek hierdie koninkryk van Christus op die aarde aan.

Amillennialisme glo die 1,000 jaar is ‘n simboliese getal. Jy kan dit hoor in die woordjie “a” wat “geen” beteken. Hulle glo dat daar nie ‘n letterlike 1,000 jaar is nie: Die 1,000 jaar verwys na die tyd tussen Christus se eerste koms en sy tweede koms. Die Satan is gebind met sy kruisiging en opstanding. Christus en sy kerk heers nou alreeds.

Postmillennialisme glo Christus se wederkoms vind plaas na die 1,000 jaar. Jy kan dit hoor in die woordjie “post” wat “na” beteken. Sommige postmillennialiste glo dat die 1,000 jaar ‘n letterlike 1,000 jaar is wat nog moet aanbreek. Ander postmillennialiste glo net soos die amillennialiste dat dit simbolies is en basies gaan oor die tyd tussen Christus se eerste koms en sy tweede koms.

Jy kan seker hoor dat amillennialisme en postmillennialisme soms baie naby aan mekaar kom. Die groot verskil tussen hulle gaan oor hoe optimisties mens moet wees oor die groei van Christus se koninkryk op die aarde, voor sy wederkoms. Postmillennialisme is per definisie baie optimisties. Amillennialisme kan optimisties, pessimisties of neutraal staan teenoor die groei van Christus se koninkryk op die aarde, voor sy wederkoms.

Optimisties of pessimisties?

Ek weet dis nogal ‘n mondvol. En vir baie mense is dit te ingewikkeld om die fyner debatte te volg oor postmil vs. premil vs. amil. Meer en meer sien ek dat mense dit eenvoudiger maak en net ten minste probeer om te vra: Moet ons optimisties of pessimisties wees oor die toekoms?

Ek dink dit is ‘n baie goeie manier om eskatologie te benader. Die fyner debatte tussen postmillennialisme, premillennialisme en amillennialisme gaan baie keer oor ingewikkelde argumente oor hoe om Openbaring te verstaan. Op die ou end fokus dit op net 6 verse van een van die moeilikste boeke in die Bybel.

Maar hoe benader die res van die Bybel Christus se koninkryk? Optimisties of pessimisties? Dit is ‘n belangrike vraag. Ek is oortuig dat die Bybel baie optimisties is oor die toekoms van God se koninkryk. Daarom is ek ‘n postmillennialis.

Premillennialiste en amillennialiste kan ook optimisties wees oor die toekoms. Maar vandag is dit gewoonlik die postmillennialiste wat baie optimisties is oor die toekoms van God se koninkryk op die aarde. Ons glo dat Christus se koninkryk regtig soos ‘n mosterdsaad is: En dat die mosterdboom nog besig is om te groei.

Preterisme

Nog ‘n woord wat jy baie gaan hoor wanneer dit kom by eskatologie, is preterisme. Preterisme kom van die Latynse woord praeter. Basies gaan dit daaroor dat iemand glo dat sommige van die voorspellings in die Nuwe Testament oor die eindtyd reeds plaasgevind het.

Alle Christene is tot ‘n mate preteriste. Almal glo dat sommige van die voorspellings (soos byvoorbeeld Christus se voorspelling van sy opstanding) reeds gebeur het. Maar sommige van ons wil dit graag ‘n bietjie verder vat. Ons glo dat al die voorspellings in Christus se profetiese rede (Matt. 24) en ook baie van die voorspellings in die boek van Openbaring, reeds vervul is. Veral die voorspellings van die groot verdrukking, glo ons is reeds vervul: Dit het heengewys het na die val van Jerusalem in die jaar 70 n.C en nie na die wederkoms nie. Christus sê self: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” (Matt. 24:34).

Dit is hoekom ons so optimisties is oor die toekoms. Baie mense is pessimisties, want hulle lees in Mattheus 24 en ander plekke oor groot verdrukking wat gaan kom en dan dink hulle die wêreld is die begin van hierdie groot verdrukking. Maar vanuit ‘n preteristiese perspektief glo ek dat die ergste verby is: Die groot verdrukking het reeds plaasgevind. Ons kan beslis nog ly – en Christene ly regoor die wêreld. Maar die groot verdrukking waarvan die Bybel praat is nie iets wat nog voorlê nie. Dis iets wat reeds gebeur het.

Om te glo dat al die beloftes van die Bybel (in die Ou Testament en die Nuwe Testament) reeds vervul is, sal wel ‘n groot dwaling wees. So iemand sal dan glo dat daar nie ‘n wederkoms gaan plaasvind nie. Ek is nie bewus van enigiemand wat dit glo nie, maar tegnies sal dit “volle” preterisme wees. Wat ek van praat is “gedeeltelike” preterisme. Gedeeltelike preterisme glo dat sommige van die beloftes reeds vervul is. Maar daar is ook nog beloftes wat vervul moet word, met ‘n letterlike wederkoms wat nog moet plaasvind.

‘n Klippie in jou skoen

Ek wil jou graag ietsie gee om aan te kou: ‘n Klippie in jou skoen om jou te pla totdat jy dalk optimisties is saam met my. Dink net vir ‘n oomblik aan wat dit van ons Godsbeskouing sê as ons glo dat God op die ou end meer mense verdoem na die hel as wat Hy red.

Wat glo ons van God, as ons glo dat Hy dit doen?

Wag! Gee my ‘n kans, voor jy solank begin hout bymekaarmaak om my as ketter te verbrand.

Ek weet dat geen mens verdien om gered te word nie. En God sou beslis, sonder enige twyfel, regverdig wees om elke een van ons nietige rebelle tot die hel te verdoem – geen beswaar daar nie. God is regverdig. En Hy sou regverdig bly as Hy almal van ons in die hel sou gooi.

Maar sou Hy dan barmhartig wees?

In die Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 16, bely ons:

“Ons glo dat nadat die ganse geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in verderf en ondergang gestort is, God Homself sodanig betoon het as wat Hy is, naamlik barmhartig en regverdig. Barmhartig, deurdat Hy uit hierdie verderf trek en verlos diegene wat Hy in sy ewige onveranderlike raad uit louter goedertierenheid uitverkies het in Jesus Christus, onse Here, sonder om enigsins hul werke in aanmer – king te neem. Regverdig, deurdat Hy die ander in hul val en verderf laat bly waarin hulle hulself gewerp het”

NGB Art. 16

God wys dat Hy regverdig is, want Hy verdoem sondaars tot die hel. En Hy wys tegelyk dat Hy genadig en barmhartig is, want Hy red sondaars tot die hemel.

Goed, so ver is ek seker jy stem met my saam. Laat my nou toe om nog ‘n kans te vat. Lees bietjie deur hierdie aanhaling van een van die Puriteine:

“God is more inclinable to mercy than wrath. Mercy is his darling attribute, which he most delights in. Mic 7:18. Mercy pleases him. It is delightful to the mother, says Chrysostom, to have her breasts drawn; so it is to God to have the breasts of his mercy drawn. ‘Fury is not in me,’ Isa 27:7; that is, I do not delight in it. Acts of severity are rather forced from God; he does not afflict willingly. Lam 3:33. The bee naturally gives honey, it stings only when it is provoked; so God does not punish till he can bear no longer. ‘So that the Lord could bear no longer, because of the evil of your doings.’ Jer 44:22. Mercy is God’s right hand that he is most used to; inflicting punishment is called his strange work. Isa 28:21I. He is not used to it. When the Lord would shave off the pride of a nation, he is said to hire a razor, as if he had none of his own. ‘He shall shave with a razor that is hired.’ Isa 7:70. ‘He is slow to anger,’ Psa 103:3, but ‘ready to forgive.’ Psa 86:6.”

Thomas Watson, Body of Divinity

Hoor jy dit? Hy praat van God se genade as sy “lieflings-eienskap!” Is dit nie mooi nie?

So hier kom my vraag dan weer: Wat glo jy van God, as jy glo dat Hy meer mense verdoem tot die hel as red tot die hemel? Kan jy dan nog enigsens praat van genade as God se lieflings-eienskap?

God is nie ‘n kwaai man in die lug wat fronsend neerkyk op ons en soek vir ‘n geleentheid om ons te straf nie. Hy is regverdig en genadig. Maar sy gunsteling eienskap – so leer die Skrif, telkemale – is sy genade. En ek glo ons sal dit eendag op die nuwe aarde kan sien.

Ons, wat die soet heuning van God se genade geproe het, hoe kan ons ooit dink dat Hy hierdie genade net vir ‘n paar gevriesde gekiesdes wil gee? Nee. Sy genade is soveel groter as wat ons dink. Eendag sal ons begryp, wanneer ons saam met ‘n ontelbare groot skare in God se troonkamer staan en Hom prys.

Dink saam met my

My gedagtes oor eskatologie het al baie ontwikkel. 5 jaar terug het ek heelwat anders gedink as wat ek nou dink. In die komende 5 jaar sal my idees waarskynlik nog groei en verander. Maar ek wil jou graag uitnooi om saam met my te dink.

Ek neem jou nie kwalik as jy nie met my saamstem nie. Maar hoekom nie? Dink ten minste saam met my. Lees die Bybel saam met my. En as jy op die ou end nie met my saamstem nie, goed so. Maar vra jouself af: Is dit regtig so erg om optimisties te wees oor die toekoms?

Design a site like this with WordPress.com
Get started